Gijima lê afleggings voor Absa, SAPD se deur

Vaardigheidstekort in IKT-bedryf belemmer plaaslike indiensneming

Die IT-maatskappy Gijima het reeds sowat 200 werknemers sedert Desember afgelê en beplan om ’n verdere 200 werknemers teen middel Augustus vanjaar af te lê, het die vakbond Solidariteit vandag gesê. Ondanks ’n vaardigheidstekort in die inligting- en kommunikasietegnologie-bedryf (IKT-bedryf) gaan maatskappye voort om hoogs bekwame werknemers af te lê en werk aan buitelandse maatskappye uit te bestee.

Volgens Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, voer Gijima aan dat die afleggings plaasvind omdat die maatskappy onlangs die helfte van ’n R200 miljoen-kontrak by Absa en ’n kontrak om rekenaartoerusting aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te verskaf, verloor het. “Die afleggings kom nadat Gijima vroeër die jaar aangekondig het dat hy weer winsgewend is ná hy in 2011 meer as R370 miljoen in ’n twis met die departement van binnelandse sake oor die instelling van ’n IT-stelsel verloor het,” sê Croucamp. Gijima het sedert Desember sowat 150 permanente werknemers en 50 kontrakwerkers afgedank.

Gijima voer aan dat die afleggings weens kostedruk en veranderinge in die tegnologiebedryf wêreldwyd is. Volgens Croucamp is die tekort aan vaardighede ’n groot probleem in die IKT-bedryf. “IKT-maatskappye dank hoogs bekwame werknemers af weens verskeie redes, onder meer gelyke indiensneming, en veroorsaak dan ’n vaardigheidstekort wat tot gevolg het dat werk uitgespandeer, salarisse buitensporig verhoog en vaardighede in die buiteland gewerf word. Hierdie faktore het tot gevolg dat meer Suid-Afrikaanse werknemers afgedank word en het ’n negatiewe invloed op die indiensneming van plaaslike werknemers. Solidariteit is voortdurend met Gijima in verbinding en hou die proses dop. Die vakbond beoog om volgende week met verteenwoordigers van Gijima te vergader. Van die werknemers is gister per brief meegedeel dat ’n nuwe afleggingsproses gaan begin,” sê Croucamp.

Solidariteit het vroeër in ’n mediaverklaring gesê Sita se herstruktureringsproses word roekeloos deurgevoer en dat die maatskappy nie artikel 189 en 64(4) van die Wet op Arbeidsverhoudinge nakom nie. Sita se herstruktureringsproses raak ongeveer 40% van die maatskappy se 2 200 werknemers. Intussen is Nokia Siemens Networks ook tans besig met grootskaalse afleggings in Suid-Afrika, Nigerië en Duitsland. Nagenoeg 160 werknemers kan hierdeur geraak word.

Mediaverklaring, Solidariteit, 17 Mei 2012.

Beplande KT/Telkom-transaksie voordelig vir Telkom én SA – Solidariteit

Indien die beplande transaksie tussen Telkom en KT (Korea Telecom) slaag, sal Telkom nie meer ’n semi-staatsinstelling wees nie en merendeels privaat bestuur word, het die vakbond Solidariteit vandag gesê. Die transaksie sal nie net vir Telkom-kliënte voordelig wees nie, aangesien dit waarskynlik ook positiewe gevolge vir Telkom-werknemers inhou.

Volgens Marius Croucamp, bedryfshoof van Solidariteit se Kommunikasiebedryf, is KT ’n hoogs suksesvolle en gesiene maatskappy wat leiding neem en innoveer. “KT het ’n groot rol gespeel om Suid-Korea een van die lande met die vinnigste en mees wydverspreide internetverbindings ter wêreld te maak. Die maatskappy se kennis en ondervinding kan dus vir Telkom en die Suid-Afrikaanse samelewing ’n aanwins wees,” het Croucamp gesê. Hy het verder daarop gewys dat die groot kontantinspuiting wat die KT/Telkom-transaksie sal meebring, broodnodig vir Telkom is. “Dit sal die maatskappy in staat stel om hulle infrastruktuur uit te brei, sonder dat dit hulle huidige begroting sal beïnvloed,” het Croucamp gesê.

Solidariteit het beklemtoon dat die KT-transaksie waarskynlik ook vir Telkom-werknemers ’n nuwe era sal inlui. “In Korea fokus KT daarop om vir sy werknemers ’n buigbare werksomgewing te skep deur middel van fleksiewerksure en -plekke, asook die gebruik van ‘virtuele kantore’. Laasgenoemde stel werkers in staat om hulle werk en gesinslewe beter te balanseer,” het Croucamp gesê. KT het ook daarin geslaag om hul dienste te diversifiseer, wat vir die maatskappy se werknemers nuwe geleenthede geskep het. Indien die transaksie suksesvol is, kan hierdie gesindheid moontlik na Telkom oorspoel.

Croucamp het ook daarop gewys dat KT ’n kliëntediens-georiënteerde maatskappy is wat daarin kon slaag om in ’n hoogs kompeterende bedryf te privatiseer. Die maatskappy is boonop in 2011 op die Dow Jones-volhoubaarheidsindekse as die nommer een volhoubare telekommunikasiemaatskappy uit 47 groot kommunikasiemaatskappye wêreldwyd aangewys.

Solidariteit gaan nietemin die situasie fyn dophou, aangesien die risiko van werksverliese altyd bestaan sodra ’n maatskappy sy bestuurstyl aanpas en/of sy toerusting opgradeer.

Mediaverklaring, Solidariteit, 15 Mei 2012.

Absa trek afleggingskennisgewings terug

Die vakbond Solidariteit het vandag Absa se aankondiging dat hulle die afleggingskennisgewings aan sowat 140 van hulle IT-werknemers gaan terugtrek, verwelkom. Dit volg op ’n dringende brief van Solidariteit aan Absa verlede week waarin die vakbond daarop aandring dat die bank die afleggingskennisgewings asook vorms waardeur werknemers uit die maatskappy moes bedank, terugtrek.

“Absa se aankondiging dat hulle die brief terugtrek, is ’n groot stap in die regte rigting en is inderwaarheid ’n erkenning van hulle onmenslike gedrag,” sê Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.

Werknemers het op 7 Mei 2012 om 15:20 ’n brief per e-pos ontvang waarin hulle meegedeel word dat pogings om ander poste vir hulle te kry, onsuksesvol was. Op 8 Mei moes hulle, ter wille van onbelemmerde uitdienstreding, vorms invul waarmee hulle uit hulle medies en pensioen bedank, asook ’n vorm waarmee hulle uit die maatskappy bedank. Hulle is ook aangesê om al die eiendom van die werkgewer wat in hulle besit is, te gaan inhandig.

“Werknemers wat die bedankingsvorm ingevul het, het bedank en sal gevolglik nie op enige skeidingsloon of werkloosheidsversekering geregtig wees nie. Daarom het Solidariteit ’n beroep op werknemers gedoen om nie die bedankingsvorm in te vul nie en ’n ernstige brief aan Absa oor dié vorm gerig. Indien iemand so ’n bedankingsvorm ingehandig het, beteken dit regstegnies dat hy sonder ’n sent daar sal wegstap, al het hy 40 jaar vir die bank gewerk,” het Hermann gesê. Hoewel Absa die afleggingskennisgewings teruggetrek het, is dit nie duidelik of die bank die bedankingsvorms ook teruggetrek het nie.

Mediaverklaring, Solidariteit, 14 Mei 2012.

Solidariteit doen voorstelle in Velvet Sky-saak ná lesse met Aurora

Werknemers weer die grootste verloorders

Die vakbond Solidariteit het vandag verskeie voorstelle oor die hantering van die Velvet Sky-saak gedoen na aanleiding van die lesse wat in sy geveg teen Aurora geleer is. Volgens die vakbond is dit nou duidelik dat Velvet Sky stap vir stap in Aurora se voetspore volg weens die oorvleueling in betrokkenes.

Gideon du Plessis, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het gewaarsku dat die lugredery se diensverskaffers en werknemers onmiddellik moet optree om te voorkom dat hulle as krediteure in dieselfde bootjie as dié van Aurora beland. Dit volg nadat die hooggeregshof in Pietermaritzburg Velvet Sky Vrydag onder voorlopige likwidasie geplaas het.

Die likwidasie-aansoek deur BP is in Maart vanjaar ter syde gestel ná Velvet Sky se aankondiging dat ʼn misterieuse buitelandse “belegger” die lugredery moontlik uit sy verknorsing kon red. Hierdie selfde valse belofte van ʼn buitelandse belegger het ʼn eentonige wysie in die Aurora-sage geword. Boonop was daar ook weer sprake, soos by Aurora, van ʼn sogenaamde omkeerstrategie. Velvet Sky skuld diensverskaffers na raming reeds meer as R100 miljoen.

Volgens Du Plessis het Velvet Sky nie net dieselfde direkteur en besigheidskonsultante as die gelikwideerde Aurora in diens geneem nie, maar hulle werkswyse is tot dusver byna identies. “Die kommerwekkendste is egter dat die lesse wat uit die Aurora-debakel geleer is, steeds nie hier toegepas word nie. Die werknemers gaan waarskynlik die grootste verloorders in die proses wees, veral indien dit weer maande sloer voordat daar daadwerklike stappe gedoen word. Soos in die geval van Aurora is daar bevind dat Velvet Sky geen bates of kapitaal besit nie. Hulle skuld hul werkers drie maande se salarisse.”

Solidariteit se voorstelle:
• Die likwidateurs wat in die Velvet Sky-saak aangestel word, moet dadelik by die hooggeregshof aansoek doen om die uitbreiding van hulle magte sodat ʼn insolvensieondervraging gehou kan word.
• Die insolvensieondervraging moet alle rolspelers wat agter die skerms by die debakel betrokke was identifiseer en regstappe moet teen hulle gedoen word.
• In bogenoemde geval sal Solidariteit ʼn beroep doen op die meester van die hooggeregshof om die genoemde ondervraging in die openbaar te hou sodat die betrokke individue en hul wandade finaal blootgestel kan word sodat hulle nooit weer in Suid-Afrika sake kan doen nie.
• Die likwidateurs moet die direkteure van Velvet Sky ingevolge artikel 424 van die Maatskappywet vervolg om hulle persoonlik aanspreeklik te hou vir die roekelose bestuur van die lugredery.
• Die likwidateurs moet die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) by die ondersoek betrek omrede dit in die Aurora-ondersoek duidelik aan die lig gekom het dat die betrokkenes se belastingsake nie in orde was nie.
• Die Velvet Sky-likwidateurs moet met die Pamodzi Gold-likwidateurs en -regspan vergader en inligting uitruil weens die ooreenkomste tussen die twee entiteite. Verder moet daar ook bepaal word of daar nie van die vermiste Aurora-miljoene by Velvet Sky aangewend is nie, veral in die lig van Solly en Fazel Bhana se betrokkenheid by beide gelikwideerde entiteite. Die Bhanas is na aanleiding van ʼn Aurora-insolvensieondervraging as die sleutelpersone in die Aurora-debakel uitgewys.
• Die Velvet Sky-likwidateurs moet hulle daarvan weerhou om met die lugredery te onderhandel aangesien dit as ʼn vertragingstaktiek deur die redery misbruik sal word.
• In aansluiting hierby moet krediteure en eisers hulle daarvan weerhou om enige skikking met Velvet Sky aan te gaan omrede Aurora nie enige soortgelyke skikkings nagekom het nie, maar dit bloot gebruik het om die druk op hulle te verlig en die proses in die wiele te ry.
• Werknemers van Velvet Sky moet hulle uitstaande salariseise by die Velvet Sky-likwidateurs registreer en onmiddellik ander werk begin soek.
• Solidariteit sal Velvet Sky-werknemers met graagte adviseer in die lig van sy noue betrokkenheid by die lot van die Aurora-werknemers.

Mediaverklaring, Solidariteit, 14 Mei 2012.

Absa-werknemers word per e-pos gepos

Nog werknemers hoor: “Today, tomorrow, goodbye”

Werknemers van Absa is die afgelope week per e-pos in kennis gestel dat hulle op 9 Junie afgedank gaan word. Dit kom ten spyte van Absa se volgehoue ontkenning dat hulle afleggings uitvoer. Minstens 140 werknemers in die IT-afdeling gaan hulle werk verloor. Die vakbond Solidariteit het bewyse dat die afleggings wyer as net die IT-afdeling strek, maar Absa swyg steeds oor hoeveel mense op 9 Junie afgedank gaan word. Absa het nog verder gegaan en vorms aan werknemers gestuur waarmee hulle uit die maatskappy moet bedank.

“Ons is verstom oor Absa se onmenslike hantering van die proses. Eers is werknemers gedwing om hulle besittings in houers te pak en uit Absa se gebou begelei. Hulle is vir drie maande huis toe gestuur vir sogenaamde “tuisverlof” (gardening leave) terwyl daar gepoog sou word om hulle in ander afdelings in die maatskappy te plaas. Nou word hulle per e-pos by die huis afgedank,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

In die brief aan die werknemers word hulle versoek om ’n vorm in te vul om uit Absa te bedank. Die vorm se opskrif lui “Kennisgewing van uitdienstreding” en die werknemers moet dan die datum van hulle bedanking daarop invul.

“As werknemers hierdie vorm invul en onderteken, dan is dit nie meer ’n geval van aflegging nie, maar bedanking. Die werknemers sal gevolglik nie geregtig wees op enige skeidingsloon of werkloosheidsversekering nie.

“Regstegnies beteken dit dat iemand wat vir 40 jaar by Absa gewerk het, sonder ’n sent daar sal wegstap,” het Hermann gesê.

Solidariteit het ’n beroep op werknemers gedoen om nie die vorm in te vul nie.

Werknemers het op 7 Mei 2012 om 15:20 ’n brief per e-pos ontvang waarin hulle meegedeel word dat pogings om ander poste vir hulle te kry, onsuksesvol was. Op 8 Mei moes hulle, ter wille van onbelemmerde uitdienstreding, vorms invul waarmee hulle uit hulle medies en pensioen bedank asook ’n vorm waarmee hulle uit die maatskappy bedank. Hulle moet ook al die eiendom van die werkgewer wat in hulle besit is, gaan inhandig. “Hierdie is dus ’n geval van dat hulle “today” moes hoor dat hulle “tomorrow” moet “goodbye” sê,” volgens Hermann.

In die brief word werknemers bedank vir hulle waardevolle bydrae binne Absa en voorspoed toegewens.

Akademia stel ses onderrigleersentrums dwarsoor Suid-Afrika bekend

Akademia, ’n inisiatief van die Solidariteit Beweging, het vandag ses onderrigleersentrums in Centurion, die Moot in Pretoria, Vanderbijlpark, Boksburg, Roodepoort en Stellenbosch bekendgestel. Akademia is ’n privaat verskaffer van studieprogramme wat op dieselfde vlak as dié van universiteite is.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, meen die krag van die Akademia-model is dat dit bekostigbaar en eenvoudig is om onderrigleersentrums in enige gemeenskap te vestig. “Ons vat Afrikaanse hoër onderwys na die mense toe. Die onderrigleermodel is in die eerste plek daarop gefokus om studente suksesvol in hulle studies te maak. Daarbenewens maak die gevorderde onderrigtegnologie dit moontlik dat ons hoër onderwys bekostigbaar kan aanbied. Ons programme is tussen 30% en 50% goedkoper as in die res van die mark.

“Ons het intensiewe navorsing gedoen oor skaars beroepsrigtings in Suid-Afrika en ons kies ons programme daarvolgens. Studente sal dus gesogte kwalifikasies kry wat hulle toetrede tot die arbeidsmark makliker sal maak,” sê Visser.

Die programme word in Afrikaans aangebied en is daarop gemik om mense gekwalifiseerd en aanstelbaar in ’n groeiende ekonomie te maak. Akademia se eerste onderrigleersentrums is reeds in Centurion, die Moot in Pretoria, Vanderbijlpark, Boksburg, Roodepoort en Stellenbosch ingerig.

Akademia het reeds vroeër vanjaar vier onderrigprogramme (drie sertifikate en ’n diploma) begin aanbied en kan so vroeg soos volgende jaar sy eerste graad aanbied. Danksy die nuutste telematiese tegnologie gaan Akademia interaktiewe klasse oor Suid-Afrika heen by die ses onderrigleersentrums aanbied. Die instelling beplan om binne vyf jaar onderrigleersentrums in elke groot sentrum in die land te vestig en om aan die einde van die vyf jaar 10 000 ingeskrewe studente oor ’n wye spektrum van studierigtings te hê.

Klik hier om ʼn artikel deur Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, oor die belangrikheid van Akademia in Suid-Afrika te lees.

Marthinus Visser
Besturende direkteur: Akademia
Sel: 082 926 3441

Meer oor Akademia:
Akademia, ’n inisiatief van die Solidariteit Beweging, is ’n splinternuwe privaat Afrikaanse afstandonderriginstelling wat hoëronderwys-kwalifikasies van gehalte teen 30% tot 50% goedkoper as die res van die mark bied. By Akademia kan studente hulle nauurs in skaars beroepsrigtings bekwaam en hulself daardeur aanstelbaar maak in ’n groeiende ekonomie. Akademia spog reeds met ses leersentrums in Centurion, die Moot in Pretoria, Vanderbijlpark, Boksburg, Roodepoort en Stellenbosch, en beplan om binne vyf jaar ’n leersentrum in elke groot sentrum in Suid-Afrika te bedryf.

Akademia bied:
• Gehalte-studiemateriaal in Afrikaans wat Afrikaans as wetenskaptaal bevorder;
• nauurse, interaktiewe lesings by ’n hoëtegnologie-leersentrum in jou omgewing;
• ’n tabletrekenaar vir navorsing, opdragte en kommunikasie met Akademia;
• ’n elektroniese biblioteek; en
• persoonlike kontak, begeleiding en ondersteuning.

Programme vir 2012:
• Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie (NKR (NQF) vlak 5, 120 krediete, Saqa-ID-nommer: 86526);
• Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde (NKR (NQF) vlak 5, 130 krediete, Saqa-ID-nommer: 86487).

Belangrike inligting:
• Voornemende studente kan uit twee programme kies vir die Mei-inname.
• Registrasie: Besoek die webtuiste, www.akademia.ac.za, tussen 2 Mei en 16 Junie 2012 vir inligting oor die registrasieprosedure.
• Dokumente wat by registrasie benodig word:

  1. Voltooide registrasievorm;
  2. gewaarmerkte afskrif van identiteitsdokument of paspoort; en
  3. gewaarmerkte afskrif van Nasionale Senior Sertifikaat, graad 12-uitslae of ’n ander erkende vlak 4-kwalifikasie.

• Koste: Tussen R15 000 en R17 500 per program.
• Beurse en rentevrye lenings is beskikbaar.
• Die afhaal van studiemateriaal en oriëntering by studiesentrums: 30 Julie tot 3 Augustus 2012.

Webtuiste: www.akademia.ac.za
Tel: 0861 222 888

Laai af…

Solidariteit Beweging kondig burgerlike plan van R1 miljard aan

Mediaverklaring
Solidariteit Beweging
18 April 2012

Solidariteit Beweging kondig burgerlike plan van R1 miljard aan

Die Solidariteit Beweging het vandag aangekondig dat hy ingevolge sy burgerlike plan oor die volgende drie jaar meer as R1 miljard in die burgerlike samelewing gaan belê. Die plan fokus op verskeie terreine van die Suid-Afrikaanse samelewing wat werksbeskerming, burgerregte, maatskaplike sorg, taal en kultuur, onderwys en opleiding, navorsing en media insluit.

Die plan gaan deur die 18 instellings van die Solidariteit Beweging uitgevoer word. Die instellings sluit die vakbond Solidariteit, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, Sol-Tech, Akademia, Kraal Uitgewers, die FAK, Maroela Media en verskeie finansiële en ontwikkelingsinstellings in.

“Ons glo dat ons deur die Solidariteit Beweging-bouplan die burgerlike samelewing in Suid-Afrika sal versterk. Ons wil deur ’n netwerk van kragtige instellings vir ons lede en hulle gemeenskappe ’n toekoms skep sodat hulle blywend, vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan leef. Die Solidariteit Beweging gaan ook aktief uitreik na ander burgerlike instellings om sodoende kulturele vryheid, die regsorde, demokrasie en die Grondwet te beskerm,” het Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging gesê.

’n Groot deel van die plan se begroting gaan na opleiding wat die bou van ’n nuwe kampus van R150 miljoen waar tersiêre opleiding aangebied sal word, insluit. Die Kampus gaan die tuiste van al die Solidariteit Beweging se opleidingsinisiatiewe wees. Dit sluit in die tegniese kollege, Sol-Tech, wat beplan om in die volgende drie jaar sy kapasiteit te verdubbel, wat hom een van die grootste tegniese opleidingskolleges in Suid-Afrika sal maak. Die Kampus sal ook die hoëronderwysinstelling, Akademia, huisves wat deur middel van gevorderde telematiese tegnologie hoër onderwys oor Suid-Afrika heen gaan aanbied. Daar word voorsien dat tot 10 000 studente by 50 leersentrums onderrig sal word.

Die plan kondig ook aan dat die Solidariteit Beweging sy studiehulp radikaal gaan uitbrei. Die Beweging voorsien om binne sewe jaar R50 miljoen per jaar aan studiehulp uit te betaal.

“Ons glo dat ’n mens in die volgende geslag belê deur opleiding. Daardeur stel jy jongmense in staat om hulle eie toekoms te skep. Terselfdertyd stimuleer jy ook ekonomiese groei wat vir almal in Suid-Afrika voordelig is,” het Buys gesê.

Die beskerming van regte bly ’n kerndeel van die Solidariteit Beweging se werksaamhede. Deur die vakbond Solidariteit en AfriForum word etlike miljoene rande voorsien om werknemers en gewone burgers se regte te beskerm. Solidariteit stel ook ’n volledige program om werknemers se regte in die nuwe ekonomie te beskerm, in die vooruitsig. Ingevolge die bouplan gaan AfriForum sy werksaamhede na plaaslike gemeenskappe afwentel en spesiale klem op munisipale dienslewering en gemeenskapbeveiliging lê.

Betreffende maatskaplike hulp gaan Solidariteit Helpende Hand se kapasiteit ook uitgebou word en sal daar op takke in gemeenskappe gefokus word. Helpende Hand gaan sterk klem lê op opheffing-deur-opleiding teenoor opheffing-deur-toelaes.

Die Solidariteit Beweging voorsien ook baie meer aktiwiteit op taal- en kultuurgebied in die volgende drie jaar. Die FAK beplan verskeie taal- en kultuuraktiwiteite en bring hierdie jaar ’n nuwe sangbundel uit. Kraal Uitgewers gaan verskeie nuwe boeke uitgee en Maroela Media gaan die grootste kuierplek vir Afrikaanse mense op die web vestig.

Omdat ’n plan net so sterk is soos sy intellektuele diepte, maak twee navorsingsinstitute deel uit van die Solidariteit Beweging se bouplan. Hulle is die Solidariteit Navorsingsinstituut, wat op arbeids- en burgerregte, arbeidsekonomie en arbeidsverhoudinge fokus, en die NP van Wyk Louw Navorsingsentrum, wat op die internasionaal erkende idee van kulturele vryheid fokus. Daar word ook voorsiening gemaak vir die vestiging van ’n internasionale skakelkantoor wat met internasionale forums en Suid-Afrikaners in die buiteland sal skakel.

Die bouplan sal gefinansier word deur elke instelling wat self verantwoordelikheid vir die finansiering van sy deel van die plan neem. Meer as 200 000 mense gaan maandeliks tot die plan bydra. “Solidariteit-lede gee elke maand R11 per lid vir die ontwikkeling van die plan. Miljoene rande van die plan sal deur hierdie elf rande gefinansier word. Die plan is dus uit gewone mense, vir gewone mense,” het Buys gesê.

Die plan gaan verder deur die Solidariteit Beweging se finansiële en ontwikkelingsinstellings, naamlik die Solidariteit Groeifonds, die Solidariteit Finansiële Dienstemaatskappy, die Solidariteit Beleggingsmaatskappy en die Solidariteit Eiendomsmaatskappy, gefinansier word.

Dirk Hermann
Adjunk uitvoerende hoof: Solidariteit

Laai af:

Regsplan teen Korrektiewe Dienste se beleid van regstellende aksie

Mediaverklaring
Solidariteit
11 April 2012

Omvattende regsplan teen Korrektiewe Dienste se beleid van regstellende aksie – tot 30 sake kan gekonsolideer word
Solidariteit nooi Trevor Manuel om tot saak toe te tree

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn omvattende regstrategie teen die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) se regstellendeaksie-plan aangekondig. Meer as 30 individuele sake kan gekonsolideer word, wat hierdie saak die grootste regstellendeaksie-saak nog in Suid-Afrika sal maak.

Solidariteit gaan ook gelyklopend met die individuele sake met ʼn regsproses begin om die regstellendeaksie-plan van die DKD ter syde te stel, aangesien die plan nie in lyn is met die Grondwet van Suid-Afrika en die Wet op Gelyke Indiensneming nie. Volgens Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, is die bron van die kwaad nie individuele gevalle waar regstellende aksie buite die beleid toegepas is nie, maar die beleid self.

Solidariteit het reeds die sake van vier bruin en een wit werknemer van DKD gekonsolideer, wat nou na die arbeidshof verwys word. Die werknemers is Geo-nita Baartman, Linda-Jean Fortuin, André Jonkers, Christopher February en Pieter Dawids. In al hierdie gevalle was die werknemers die beste kandidate vir die poste waarvoor hulle aansoek gedoen het, maar is hulle oor die hoof gesien weens die DKD se beleid van absolute nasionale demografiese verteenwoordiging. Solidariteit voer nou ook met ʼn verdere 26 werknemers gesprekke.

Volgens die DKD se regstellendeaksie-plan moet die nasionale demografie in elke werksplek, selfs op provinsiale en streeksvlak, weerspieël word. In die Wes-Kaap is ongeveer 51% van die bevolking bruin Suid-Afrikaners, waar daar nasionaal slegs ongeveer 8,8% is. Die implikasie van die DKD se strategie is dat daar in ʼn provinsie soos die Wes-Kaap ʼn oorwig bruin Suid-Afrikaners is. In die DKD se strewe om die nasionale demografie te weerspieël, word bruin en wit werknemers by bevorderings en aanstellings oor die hoof gesien.

Verlede jaar het ʼn herrie losgebars oor Jimmy Manyi, die destydse direkteur-generaal van Arbeid en huidige kabinetswoordvoerder, se uitspraak dat daar ʼn ooraanbod van bruin Suid-Afrikaners in die Wes-Kaap is en dat hulle oor Suid-Afrika heen moet versprei. Die video van sy uitlatings kan gesien word by www.solidariteitmedia.co.za (onder hierdie mediaverklaring).

Die DKD se beleid is Jimmy Manyi se uitspraak in praktyk. Indien die nasionale demografie op die Wes-Kaap toegepas word, is daar soos Manyi dit stel, “ʼn ooraanbod” van bruin DKD-werknemers in die Wes-Kaap.

Mnr. Trevor Manuel het in ʼn ope brief gesê dat Manyi se uitsprake nie strook met die letter en gees van die Grondwet nie. Volgens Manuel is Manyi se uitsprake “unconstitutional and morally reprehensible”.

Manuel skryf verder in sy brief: “I want to put it to you that these statements would make you a racist in the mould of HF Verwoerd, I want to put it to you that you have the same mind that operated under apartheid … I have a sense that your racism has infiltrated the highest echelons of government.” (Die volledige brief kan gelees word op www.solidariteitmedia.co.za.)

“Mnr. Manuel is reg as hy sê dat Manyi se rassisme die hoogste range van die regering geïnfiltreer het. Dit het, soos by die DKD, die beleid van die regering geword. Ons glo ook dat hierdie idees van Manyi en die beleid van die DKD teen die letter en gees van die Grondwet is,” sê Hermann.

“Ons vat nie regstellende aksie hof toe nie, maar die beleid van absolute verteenwoordiging. Dit is ʼn wiskundige benadering tot regstellende aksie waar mense bloot syfers word. Hierdie beleid het niks meer met regstel te doen nie, maar alles met ras. In die lig van Manuel se sterk standpunt teen hierdie vorm van regstellende aksie en sy verbintenis om die Manyi-idees te beveg, nooi ons hom uit om homself tot die saak te verbind en saam te veg om hierdie metode van regstellende aksie te stop,” het Hermann gesê.

(Die volledige teks van Dirk Hermann se toespraak by die mediakonferensie.)

Dirk Hermann
Adjunk uitvoerende hoof: Solidariteit

Laai af:

Video: Jimmy Manyi op Robinson Regstreeks

Arbeidsmark-teenstelling skep geleenthede vir jongmense wat verder studeer

Daar is duisende werksgeleenthede vir jongmense wat hulle matrieksertifikaat beskou as die beginpunt van ʼn tersiêre studieloopbaan in rigtings waarin daar tekorte bestaan, het die vakbond Solidariteit vandag gesê.

Duurste bank nou nóg duurder – Solidariteit-verslag

Die bankreus, Absa, wat verlede jaar in die Solidariteit Beweging se eerste bankkosteverslag as een van die twee duurste banke in Suid-Afrika aangewys is, het sy status behou. Boonop het die bankkoste van dié bank se goedkoopste rekening met 8% gestyg terwyl Capitec se bankkoste glad nie vanjaar gestyg het nie. Dít is enkele bevindings van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se tweede bankkosteverslag wat vandag deur die Solidariteit Beweging (Solidariteit, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand en die Solidariteit Beleggingsmaatskappy) bekendgestel is.

* Lees die volledige mediaverklaring hier.

* Lees die volledige Bankkosteverslag 2011 hier.