Vaardigheidstekort in IKT-bedryf belemmer plaaslike indiensneming
Die IT-maatskappy Gijima het reeds sowat 200 werknemers sedert Desember afgelê en beplan om ’n verdere 200 werknemers teen middel Augustus vanjaar af te lê, het die vakbond Solidariteit vandag gesê. Ondanks ’n vaardigheidstekort in die inligting- en kommunikasietegnologie-bedryf (IKT-bedryf) gaan maatskappye voort om hoogs bekwame werknemers af te lê en werk aan buitelandse maatskappye uit te bestee.
Volgens Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, voer Gijima aan dat die afleggings plaasvind omdat die maatskappy onlangs die helfte van ’n R200 miljoen-kontrak by Absa en ’n kontrak om rekenaartoerusting aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te verskaf, verloor het. “Die afleggings kom nadat Gijima vroeër die jaar aangekondig het dat hy weer winsgewend is ná hy in 2011 meer as R370 miljoen in ’n twis met die departement van binnelandse sake oor die instelling van ’n IT-stelsel verloor het,” sê Croucamp. Gijima het sedert Desember sowat 150 permanente werknemers en 50 kontrakwerkers afgedank.
Gijima voer aan dat die afleggings weens kostedruk en veranderinge in die tegnologiebedryf wêreldwyd is. Volgens Croucamp is die tekort aan vaardighede ’n groot probleem in die IKT-bedryf. “IKT-maatskappye dank hoogs bekwame werknemers af weens verskeie redes, onder meer gelyke indiensneming, en veroorsaak dan ’n vaardigheidstekort wat tot gevolg het dat werk uitgespandeer, salarisse buitensporig verhoog en vaardighede in die buiteland gewerf word. Hierdie faktore het tot gevolg dat meer Suid-Afrikaanse werknemers afgedank word en het ’n negatiewe invloed op die indiensneming van plaaslike werknemers. Solidariteit is voortdurend met Gijima in verbinding en hou die proses dop. Die vakbond beoog om volgende week met verteenwoordigers van Gijima te vergader. Van die werknemers is gister per brief meegedeel dat ’n nuwe afleggingsproses gaan begin,” sê Croucamp.
Solidariteit het vroeër in ’n mediaverklaring gesê Sita se herstruktureringsproses word roekeloos deurgevoer en dat die maatskappy nie artikel 189 en 64(4) van die Wet op Arbeidsverhoudinge nakom nie. Sita se herstruktureringsproses raak ongeveer 40% van die maatskappy se 2 200 werknemers. Intussen is Nokia Siemens Networks ook tans besig met grootskaalse afleggings in Suid-Afrika, Nigerië en Duitsland. Nagenoeg 160 werknemers kan hierdeur geraak word.
Mediaverklaring, Solidariteit, 17 Mei 2012.